Liewe Pa en Ma,
Dit voel glad nie soos 'n week wat julle al weg is nie, want ek en Jannie geniet ons baie. Ek het eintlik vir Pa baie slegte nuus. Ou Anna wat in die
huis sou ingeslaap het terwyl Pa hulle oorsee is, se Tannie is dood en ek het toe maar vir haar gesê sy kan die hele tyd wat pa hulle oorsee is by
haar familie in Soweto kuier. Dalk het Pa haar Tannie geken en is ek nou die een wat die slegte nuus moet oordra.
Pa en Ma moet nou nie oor ons worry nie want ons is OK. Ek het Pa se
kruisboog uitgehaal sodat ons kan onsself verdedig. Jis maar die ding skiet hê? Ons het cowboys en kroeks gespeel toe skiet ek na daai ou bank van Ma
wat oumagrootjie nog vir haar gegee het. Die pyl gaan deur hom.
Die Dokter wat vir Jannie steke in sy boud ingesit het, het gesê ons moet dit liewers nie meer doen nie. Ek het toe maar die bank vir die mense gegee
wat die vuilgoed wegry want ons moes hom stukkend sny om die pyl uit te kry. Gelukkig was dit die oue wat Ma altyd sê kom van Napoleon se tyd af.
Pa, ek het toe daardie stellasie wat aan die dak van die garage hang wat Pa altyd bang was val op die kar, vir Pa afgehaal. Ek weet Pa dink nou dit het
bo op die Ferrari geval, maar dit het nie want ek het gedink dit sou groot skade wees en toe trek ek en Jannie hom eers uit. Ongelukkig het die rak toe
geval maar net op die vloer en van die blikke verf het toe uitgespat en geloop. Van dit het teen Ma se nuwe BMW geval maar ons het dit dadelik
met paintremover afgehaal. Ek weet nie hoekom nie maar dit het meer verf afgehaal as wat gespat het.
Ek het Pa se kar toe weer ingetrek, maar die vloer was toe baie glad
van die verf en toe wil hy nie gou genoeg stop nie en nou staan 'n gedeelte van sy bonnet in die kombuis waar die stoof gestaan het. Die stoof is nou
naby die yskaste waaroor Ma dalk bly gaan wees want sy sê mos altyd sy loop haar dood tussen die stoof en yskas. Die kar se boot lyk nog mooi.
Ons het gister vir ons lekker vleis in die kaggel gebraai want dit het gereent buite en die hout was ook alles nat. Jis, het Pa geweet petrol
ontplof as jy 'n blik vol oor die hout gooi. Pa s'n het nog nooit ontplof nie maar Jannie sê hy dink Pa gooi diesel oor. Shame, die hond en Ma se
Persiese kat het groot geskrik en die hele TV kabinet omgehardloop. Daai noodhulp lesse het nogal goed te pas gekom want ek het hulle dadelik in die
jaccuzi gegooi om die vlamme dood te maak. Ek dink hulle hou meer daarvan in die hitte noudat hulle nie meer hare het nie.
Pa moenie worry oordat ons nie kan TV kyk nie, ons slaap nou sommer in julle kamer en kyk daar. Die kaggel lyk nou kaal oor die Persiese mat wat nie meer
daar is nie.
Pa en Ma moet julle nou oor niks bekommer nie. Ek het die versekering gebel en hulle het al kom kyk na dit wat gebeur het. Hulle sal dit seker binnekort
kom regmaak omdat Pa dit gereeld betaal het want die ou wat hier was het gepraat van repireer oor nodige voorsorg wat Pa getref het. Ek dink nie die
ou wat hier was van die versekering kan spel nie want in die brief staan repudieer weens nodige voorsorg.
Nou ja, ek is moeg geskryf en ons wil nog gaan kyk of ons nie die molle wat besig is in die tuin kan gaan uitrook nie.
Geniet die vyf weke wat julle nog oorsee is en ek skryf volgende week weer.
Liefde
Pietie