
Monica is klassiek opgelei in klavier [UNISA (Gr. 6) & ABRSM (Gr. 8)] en tjello [ABRSM (Gr. 5)]. In haar hoërskool loopbaan, te Hoërskool Randburg, was sy deel van talle produksies op die skoolplanke. Sy het o.a. in die drama-opvoering Ingrid Jonker: Jasmyn gepluk vir ‘n oop knoopsgat ( Dr.Nico van Niekerk en Cobie Meiring) gedigte van die bekende digter getoonset en ander musiekwerke gekomponeer wat sy in die produksie opgevoer het. Sy was ook in haar Matriekjaar Lady MacBeth in MacBeth: A rock opera! (Blake Toerien).
Alhoewel Monica altyd ‘n liefde vir musiek gehad het, het sy ook uitgeblink op die sportveld. Sy het van 1998 af vir ses agtereenvolgende jare provinsiaal Netbal gespeel. Op die atletiekveld het Monica in 2000 aan die ABSA Mega Cup Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deelgeneem. As kapteine van die Hoërskool Randburg se o/15 span het sy in items soos Hoogspring, 400m Hekkies en Diskus daartoe bygedra dat hulle as die algehele Suid-Afrikaanse Kampioene uit die stryd getree het.
Intussen het Monica hard gewerk aan haar skoolwerk, want haar droom was nog altyd om ‘n Fisioterapeut te word. Ongelukkig is haar aansoek om keuring afgekeur en sy het ingeskryf vir B.Sc Sportwetenskap by die RAU in 2004. Na 6 maande op Universiteit en in die koshuis het Monica besef sy is op die verkeerde plek.
Sy het opgeskop en ingeskryf vir die realiteitsprogram Project Fame (Endemol & Mnet). Sy was een van die 16 studente (finaliste) uit Afrika in die musiekakademie. Vir 24 uur, 7 dae ‘n week was sy op kamera (soos Big Brother). Op Sondae-aande het die studente opgetree voor raserige crowds, kamera’s (miljoene mense voor hul tv’s) en 5 uiteenlopende beoordelaars (Nataniël, Richard Loring, Sipho “Hotstix” Mabusa, Judith Sephuma en Antos Stella).
In die akademie het André Swiegers op ‘n Vrydagmiddag onverwags opgedaag om die studente te kritiseer op songs wat hulle self gekryf het. Monica was die enigste student wat in Afrikaans geskryf en gesing het en het hiermee Swiegers se aandag getrek. (meer hieroor later).
Sy het daarin geslaag om vir 9 van die 10 weke in die akademie te bly en het in die top 7 geëindig. Uit die Project Fame Academy se deure is sy reguit na die stel van Egoli: Plek van Goud waar sy die rol van Saskia, ‘n aspirerende musikant en vriendin uit Marcel se verlede, moes vertolk.
André Swiegers het in Augustus met Monica kontak gemaak (hy was deel van die Coleske suksesverhaal as mede-liedjieskrywer, o.a Take me where the sun is shining en Aphrodite). Hy het genoeg in Monica geglo om ‘n CD met haar op te neem (wat hy sal finansier en vervaardig).
Alhoewel sy die toneelspel by Egoli baie geniet het, het die lang ure haar musiekloopbaan begin affekteer en sy moes ‘n keuse maak. Swiegers het ‘n ander opsie gebied en sy het haar grimering afgewas, van Saskia ontslae geraak en as Monica (in haar eie hoedanigheid) saam met Swiegers begin optree.
In Februarie 2005 het Swiegers sy woord nagekom en die vervaardiging van Monica se debuut album het begin. In die maande tydens die vervaardiging het Monica baie gegroei onder leiding van Swiegers. Dis te danke aan hierdie singer/songwriter en vervaardiger dat sy met trots haar debuut album kan vrystel.
Op die album is 7 van die 10 songs deur Swiegers geskryf, 2 songs deur Swiegers en Harold Schenk saam en ook een van Monica se eie songs wat sy aan haar neef opdra. Hy, Altus Boshoff, is in Augustus 2001 aan Limfoom Kanker oorlede en was haar groot inspirasie as kind. Die song se naam is Weerloos.
Daar is ‘n paar songs wat voorheen deur André en ‘n paar ander kunstenaars opgeneem is (o.a. Coleske), maar die produksie gee aan elkeen van hierdie songs sy eie kleur.
Die album beweeg in die pop/ballade genre met ‘n variasie van Afrikaanse (60%) en Engelse (40%) songs. Monica is 20 jaar oud en die songs pas by haar milieu in. Die sentrale tema van die album draai om verhoudings. Vir haar en André is dit uiters belangrik dat die album geloofwaardig moet wees - ‘n 20 jarige wat haar uitspreek oor politieke en ekonomiese sake kan maklik die pot mis sit. André het ‘n paar van die songs geskryf toe hy so oud soos sy was, wat dit toepaslik maak, maar hy het elkeen so bietjie afgestof en geskaaf om by Monica te pas.
Hierdie is ‘n luister-album, waar die lirieke ‘n ewe sterk rol speel as die melodieë. Die produksie is oorspronklik verwerk en deurdag saamgestel deur André, wat die 2005 Geraas Musiek Toekennings vir die beste vervaardiger van ‘n Afrikaanse album en die beste volwasse kontemporêre album vir Die Sirkels van Tyd ontvang het. Met ‘n bietjie atmosfeer (kerslig en ‘n bottel rooiwyn) haal hierdie album sy beste reg.