Hartjie skryf "
Met albumverkope van oor die 100 000 is dié goueplaatkunstenaar alombemind. Jacques de Coning het die jeug aangepor om spontaan op die maat van FAK-liedjies te jol en trots op taal te wees! Maar hy het hom ook met oorspronklike nuutskeppinge stewig gevestig as een van die land se knapste en veelsydigste liedjieskrywers.
Met Veels Geluk gee Jacques sy bewonderaars ‘n feesgerigte album met onder meer drie keurspele – waarin hy gewilde Engelse treffers in ‘n aanvullende Afrikaanse eiesoortigheid uit sy pen verweef. In die snitte Die grootvoëlkeurspel, die Itsy bitsy-keurspel en die Millions drums-keurspel verras hy telkens met oorspronklike musikale brûe tussen die beproefde gunstelinggoed.
Die musiek is polsend, die lirieke luistervriendelik en sy vertolking is aangenaam lig en popgerig.
Maar selfs in die glimlagstoutwerk druk hy sy inkykende stempel af en elke liedjie met nadenkende byt: soos die ghitaargedrewe rocksnit Veels geluk, die ritmiese ode Jy’s nie net ‘n lady nie en die jolding Bubblegum baby: met verfrissende verpooswendings verweef.
Tussen die jolig-jukkerige vreugdes is Meisiekind, Wil jy Willemien?, Boerewors (met ‘n ritmiesvrolike townshipklank), Vlooi (met ‘n bluesjazzerigheid wat behoorlik aan die kieliehare byt!) en die gewisse trefferparadegunsteling Staan ‘n bietjie by my. En sy reusetreffer Kom dans met my kry ook ‘n hermenginspuiting wat kook!
Jacques toor ritmies met woorde en selfs niksseggende rymelary kry ‘n poëtiese poetsing. In Afrikaans maak hy trefferskeppinge van Ddisselblom, David Kramer en Gerhard Steyn sy eie.
Hy vertolk broer Basil se balladeskepping Valley of angels met luisterryke popgerigtheid en voeg met sy eie ballade Wa’ was jy? een van die aangrypendste akoestiese liefdesliedjies aan die Afrikaanse musiekskatkis toe: orkestrale, vokale en liriese prag!
Met sy album Veels Geluk slaag Jacques de Coning daarin om gewilde makietiemusiek met verfrissende verwerkings, pols-orkestrasie en wydtreffende lirieke in ‘n trefferalbum met uiteenlopende musikale genres te verweef.
Veels geluk!
Rig albumnavrae aan Wendy van Niekerk van Select Musiek by (011) 792-0145/6/7 vir nog inligting.
Besoek: http://www.select.co.za/ of http://www.jacquesdeconing.co.za/ vir meer inligting
"