PoeticMe skryf "ek loop hier al langs die koue strate
van Jo’burg,
hier waar die son se strale deur
gebreekte bierbottels
breek
hier waar kinders sorgvry
kon baljaar en lag - sonder
kommernisse in stikdonker strate
wegkruipertjie speel
ek wandel deur ’n
park wat warm gehou word
deur ’n n kombers van
koerante en rommel
’n hoofopskrif waai teen my oë
: red die jeug van Jo’burg
my hart verstrengel in pyn
en ek loop my vas teen
realiteit
in ’n sloot langs ’n
drankwinkel
onder ’n n koerantkombers
staar wit skadu’s my aan,
’n bewende liggaampie:
’n kind van Jo’burg
hier is geen sprake van
wit en swart
almal kry koud
ly honger
is afhanklik van mekaar
kos is skaars, maar
drugs is volop
hoop is min, maar
abuse is daar altyd
liefde is daar nie sprake van, maar
sex en haat is oorlewing
ek loop hier al langs die verlate strate
van Jo’burg
ek word een met
die kliphard van strate
die kliphart van ander
die straatligte van Jo’burg
gooi wit skadu’s oor die
lewens van verlore
jeug
in die aand word asblikke
getransformeer in
“free left-over take-away”
klein handjies soek blindelings
deur afval om te oorleef
starende hol oë
ingeduikte wangbene
tenger geraamtes
met net vel as
verwarming
ek loop hier al langs Jo’burg se
wit skadustrate
tussendeur die
lewe en dood
ek staan woordeloos
teenoor
weeskinders
wegloopkinders
alleenkinders
straatkinders
dit is die jeug van Jo’burg
in al sy glorie en triomf
sy gruwel geweld
sy kommerlose gevoel
vir die wit skadulewens
van die lewelose en
huiwerende
toekoms en die verlore
siele van Jo’burg ...
"