Lize Beekman
’n GOEIE vriend het lank aan haar gekarring om haar liedjies oorsee te bemark. ‘‘Hy glo ek kan dit regkry,’’ vertel Lize Beekman.
Dié vriend is die musiekvervaardiger Jürgen von Wechmar van Sunset Studios in Stellenbosch.
‘‘Ek sê toe hy moet my laat weet hoe. Op ’n dag kry ek ’n e-pos van hom en dit is ’n inskrywingsvorm vir die International Songwriting Competition in Nashville in Amerika.
‘‘Ek het gedink ek het niks om te verloor nie en vier liedjies ingeskryf. Die lekkerte van die kompetisie was dat jy liedjies in enige taal kon inskryf en net ’n vertaling van jou lirieke moes saamstuur.’’
Lize het vier van haar liedjies op ’n CD gesit, die inskryfgeld betaal en dit Amerika toe gestuur.
‘‘Ek het Sonneblom uit Bethlehem, All the Same, Anna en Maybe I ingeskryf. Die inskrywing het my R2 200 gekos, wat dalk nie vir baie mense groot geld is nie, maar ek moes dit leen. Ek het dit as ’n belegging in my loopbaan beskou en het al die lening terugbetaal.’’
Eers het sy gehoor al die liedjies behalwe Anna is op die kortlys en daarna het sy die goeie nuus gekry dat Maybe I ’n semifinalis is.
‘‘Ja, ek het dalk nie gewen nie, maar een van my liedjies het uit 11 000 inskrywings die halfeindronde gehaal. Ek is baie trots en het nou besef ons kan meeding. Ek gaan beslis vir meer kompetisies inskryf.’’
Een van die voordele van die kompetisie is dat Lize nou ’n jaar lank verniet kan gaan na ’n webtuiste waarop vervaardigers en kunstenaars na nuwe materiaal gaan soek.
‘‘Ek glo die kompetisie het deure vir my oopgemaak en dalk gaan ek een van die dae iets vir Josh Groban skryf,’’ sê sy hoopvol.
Sy het styf duim vasgehou dat All the Same sou wen, maar nie net vir haarself nie. Dié liedjie het Lize geskryf om geld in te samel vir St. Francis Care in Boksburg, ’n tehuis waar vigspasiënte versorg word.
‘‘Ek het gedroom hoe die liedjie deur ’n internasionale ster opgeneem word en miljoene vir die tehuis maak,’’ sê sy.
Het sy al daaraan gedink om die liedjie vir iemand soos Elton John te gee?
‘‘Ek sal enigiets moontlik doen om die liedjie by die regte mense te kry, maar dit is so moeilik om by hulle uit te kom. As iemand kan dink hoe ’n mens dit doen, laat my asseblief weet. Ek gee nie om wie die liedjie sing nie, solank dit verkoop en geld vir die tehuis insamel.’’
Om haar liedjies oorsee by kunstenaars en vervaardigers te kry, is ook nie maklik nie. ‘‘Daar is miljoene liedjieskrywers en niemand sal na jou werk kyk as jy nie reeds ’n treffer het nie. Gelukkig help die kompetisie dat ek ’n reël of twee by my CV kan bylas.’’
Lize het groot planne vir vanjaar. Daar is ’n nuwe solovertoning op die KKNK, ’n Bietjie Nader, waarin sy bekende nommers en nuwe liedjies gaan sing.
‘‘Ek hoop om teen September my nuwe CD uit te reik en hou daarvan om eers die liedjies voor ’n gehoor te sing voor ek dit opneem. ’n Nuwe liedjie moet eers sy lê kry voor jy ateljee toe gaan.’’
Weet sy as sy ’n trefferliedjie geskryf het? ‘‘Ja, ek dink jy weet as jy ’n goeie produk het. Ek gebruik in elk geval nie liedjies op my CD’s wat volgens my nie op peil is nie. Het ook al geleer die trefferliedjie op ’n CD is nie noodwendig die een met die ritme nie.’’
Dis vir haar amper onmoontlik om te sê watter van haar liedjies haar eie gunsteling is.
‘‘Elkeen van my liedjies het sy eie storie. Die temaliedjie van Soutmansland was ’n kindertyddroom – om ’n liedjie vir ’n TV-reeks te skryf – wat waar geword het. Ek het ook altyd gedroom dat Laurika Rauch een van my liedjies sal sing en daarom is Sonneblom uit Bethlehem vir my baie spesiaal.
‘‘Engele is geïnspireer deur my ouma wat in vandeesmaand 98 jaar oud word. Dit is vir my spesiaal omdat dit al so ’n verskil in lewens gemaak het. Mense het vertel hoe die liedjie ma’s en dogters help versoen het wat al jare nie met mekaar praat nie.
‘‘Ek sal baie graag vir Steve Hofmeyr ’n liedjie wil skryf. Hy weet dit nog nie, maar ek wil vir daardie heserige stem iets doen. Ek hoop ook dat ’n man eendag die liedjie Ami sal opneem. Dis geskryf vir ’n man om te sing en mans in my gehoor huil lang trane wanneer hulle dit hoor.’’
Sy word oorval deur versoeke van mense om vir hulle liedjies te skryf, maar hulle verstaan nie aldag dat dit nie in ’n paar minute gedoen word nie.
‘‘Hulle is soms verstom as ek van betaling praat – liedjies skryf kan mos nie ’n werk wees nie!’’
Verlede jaar het sy twee drome gehad. ‘‘Die eerste was om ’n lang houttafel in my tuin te hê waar ’n klomp mense kan kuier en eet. Die vernis op die tafel was nog nat toe ons verlede jaar my dertigste verjaardag daarom gevier het.
‘‘Die ander droom was om weg te kom van die kunstenaar Lize Beekman wat die hele tyd bemark moet word. My musiek moes iets anders beteken as net geld vir myself om aan die lewe te bly. Daarom was die vigsprojek ’n droom wat waar geword het.’’
Vir vanjaar is haar droom om ’n huis in Melkbosstrand buite Kaapstad te hê. ‘‘Ek het dit en nou is my droom om die huis te kan hou,’’ lag sy.
Geliefkoosde CD: Op die oomblik die klankbaan van die fliek Iris.
Geliefkoosde fliek: Antonia’s Line.
Geliefkoosde gereg: ’n Gebakte eier en gerasperde kaas op roosterbrood.
Geliefkoosde drinkding: Ek is nogal ’n koffiepot en drink graag cappuccino.
Geliefkoosde kinderherinnering: Net dat ek kind was. Eers as jy groot is, besef jy hoe bly jy moet wees dat jy die lewe met ’n bietjie van ’n blaaskans begin het.
Geliefkoosde reisbestemming: Huis toe. Ek is so baie op die pad dat dit altyd lekker is om huis toe te gaan.
Raad aan jong liedjieskrywers: Hou dit eenvoudig.
Geliefkoosde kleur: Blou.
Geliefkoosde klere: Jeans en ’n T-hemp of gemaklike hemp.
Waarvoor sal jy snags opstaan? Wanneer ek ’n liedjie in my kop kry. As dit gebeur, weet ek dit moet dadelik neergeskryf word.
Is jy al ooit met iemand anders verwar? Dit het al meer as een keer gebeur dat mense dink ek is Therese Benade (Katryn in Song vir Katryn). Baie vreemd, want vir my lyk ons glad nie na mekaar nie.
Verjaardag: 22 Julie
Plateverspreiding: Bowline
Besprekings: Taryn 083-327-9522
E-pos: lizebeekman@absamail.co.za
Ilza Roggeband Huisgenoot 10 February 2005