Gustav Myburgh
SY OOM het in ’n boeremusiekgroep gespeel en vir hom ’n tromstel gekoop toe hy in gr. 7 was. Ongelukkig vir Gustav Myburgh het dit net te veel geraas volgens die mense in die woonstelgebou in Bloemfontein waar hy toe gewoon het.
‘‘Die volgende jaar het my ma, Bets, vir my ’n kitaar gekoop en daar het my groot liefde vir dié instrument begin,’’ vertel hy.
Die 37-jarige Gustav se debuut-CD, Walk Away, is onlangs bekendgestel en is een van die varsste debute die laaste tyd. Dit was juis sy idee met die CD, sê Gustav.
‘‘Ek wou nie by ander leen nie, maar my eie stempel afdruk. Nadat ek baie geluister het wat in die mark aangaan, het ek besef die meeste CD’s het ’n rock-aanslag. Ek het nog altyd ’n groot liefde vir jazz gehad en besluit om my invloede eerder daar te kry.’’
Gustav was ná skool twee jaar in die weermag en het daarna allerlei werke gedoen. Hy het vir ’n musiekverspreidingsmaatskappy gewerk en sagteware en rekenaartoerusting vir argitekte verkoop. Nege jaar gelede het hy Kaap toe getrek en in kuierplekke begin optree.
‘‘Ek was saam met Christine Cronjé in ’n tweemens-orkes en ons het meestal bekende liedjies gesing,’’ vertel hy. ‘‘Dit was vir ’n rukkie lekker, maar ek het later weer begin werk. Met die maak van die CD het ek besef dat ek ’n musikant is en ’n lewe wil daaruit maak.’’
Hy het geen formele musiekopleiding nie, maar is baie spyt hy het nie jazz studeer nie. ‘‘Dalk gaan ek myself vanjaar bederf en dit wel begin swot,’’ sê hy.
Hoekom jazz? ‘‘Ek het nog altyd ’n gevoel daarvoor gehad. Toe ek voorheen opgetree en ander kunstenaars se musiek gespeel het, het ek meestal rock gespeel. Later het ek dit ontgroei en nuwe genres ondersoek. Jazz het by my gebly en ek glo my CD is seker die sterkste jazz-CD wat nog in Afrikaans gemaak is.’’
Dis ’n groot produksie waaraan dertien kunstenaars gewerk het. ‘‘Die musiek is in Bloemfontein opgeneem en die CD is vermeng en gemeester in Frank Smuts se West Beach Studios in Kaapstad. Ek het musikante gebruik wat nog nooit voorheen saam met my gewerk het nie, omdat ek juis ’n vars klank wou hê.’’
Die reaksie was tot dusver baie goed. ‘‘Snaaks genoeg is die resensent van Volksblad ál een wat die CD afgeskiet het,’’ lag Gustav oor sy geboortestad se grootste dagblad.
Sy plan is om so gou moontlik ’n sesstuk-groep bymekaar te kry en deur die land te toer.
‘‘Natuurlik is al die groot feeste op ons kalender en hoop ek om ná die KKNK ’n draai in Gauteng te gaan maak,’’ sê hy.
Daar is reeds ’n video vir Dokter, Dokter gemaak en dié liedjie is onlangs deur Jacaranda – wat maar langtand vir nuwe Afrikaanse liedjies is – se speellys geplaas.
‘‘Net vir Dokter, Dokter en Windharp het ek nie die lirieke geskryf het nie. Iemand het dit na my gebring om te toonset vir ’n kabaret en niemand weet wie die woorde geskryf het nie. As iemand kan help, moet hulle my asseblief laat weet.’’
Verjaardag: 23 Julie
Platemaatskappy: Bowline (verspreiding)
Besprekings: 021-948-0080
E-pos: gustavmyburgh@telkomsa.net
Ilza Roggeband Huisgenoot 03 February 2005